Sven Grune, Graeme Van Breda, Kyle Robinson

Red Square Kawasaki Masters

—VLR (2016/10/23): Sven Grüne (1); Graeme Van Breda (2); Kyle Robinson (3).
—Kyalami Raceway.

Sven Grune, ZX10 Cup, Red Square Kawasaki Masters Cup

Sven Grüne #66

—Die eerste ren is verby. Sven Grüne #66, het alles gegee. Hy't verdien om vandag te wen. Hy’t gejaag asof hy 'n ou hand van die baan is. So gemaklik, so vol selfvertroue, nogal met ‘n vinnige tyd van 01:52.415. GELUK!

Toby Venter, Porsche 911 GT2R, Extreme Supercars

Toby Venter #9

—Die Grand Wizard wys alles gaan "OK" wees. Ons praat 'n paar woorde. En toe is hy daar uit.

—Kyalami is 'n vinnige breë renbaan. Dit strek 4.522 kilometer, met 16 unieke draaie. Die plek lyk absoluut fantasties. Net nou die dag nog het ons gewonder oor die toekoms van dié internasionale renbaan. As dit nie vir Toby was nie, sou hier vandag dalk niks gewees het nie. Suid Afrika is weer terug op die wêreld-motorsport-kaart. Kom ons gee hom 'n luide applous.—

Red Square Kawasaki ZX10R Masters: Kyalami (wens jy was hier)

HOOFSTUK NEGE: Die eerste rooi ligte het geval. Die Red Square Kawasaki ZX10R Masters is uit die wegspringblokke met mening. Ek hoor die magtige dreuning van ver af aankom. Hulle is naby. Die sewe-en-twintig Kawasaki’s maak 'n groot lawaai. Dis ‘n lekker lawaai. Daai wat die hare op jou arms laat regop staan. Die baan beamptes swaai hulle rooi vlae wild in die warm Kyalami lug. Dadelik probeer ek onthou wie se nommer ek gemis het. Almal is tog daar ...

Ek staan by "the Esses", skuins oorkant "Mineshaft". Net na draai 14, "the Crocodiles", het Russ Page #46, ‘n ernstige ongeluk gehad. Van waar ek staan, is dit te ver om 'n goeie foto te neem. Ek probeer uitmaak wat gebeur het. Die baan beamptes is net te ver om te vra. Ek sien 'n ambulans in die verte. Ek kyk weer deur die Nikon kamera lens. Dan erken ek die Page Prop Developers Kawasaki ZX10R. Dit is definitief hy. Daar gaan 'n lang tyd verby. As dit so lank vat, is dit dalk ernstig. Die manne sloeg maar van tyd tot tyd. In meeste van die gevalle, staan hulle op en jaag verder. Nie vandag nie. Dit voel later soos 'n uur.
In die agtergrond speel Ultravox se Vienna. Vader tog, asof dit dinge vir die arme man gaan beter maak. Ek wonder partykeer waarom word daar musiek opgevoer, of gespeel by hierdie byeenkomste.
Uiteindelik, is die stilte verby. Die ambulans is oppad na die hoofkompleks toe. Dinge behoort nou weer na normaal toe terug te keer.

Later gaan maak ek 'n draai by die kuipe. Page se Kawasaki ZX10R, het 'n paar harde houe weg. Meeste is kosmeties. Dis darem nie te veel skade nie. Sid Farinha (#57), sê, sy supermotorfiets het baie slegter gelyk. Hy ry nie die naweek nie. Hy wys sy arm vir my. Jy sal onmiddellik verstaan, as jy dit sien.

Die eerste ren is verby. Sven Grüne #66, het alles gegee. Hy verdien om vandag te wen. Die Meesters was veronderstel om Saterdag middag laat ‘n oefen sessie in te kry, wat nie gerealiseer het nie. Dit het oorgespoel na Sondag oggend toe. Wat ook nie plaasgevind het nie. Dit het Grüne definitief nie onder gekry nie. Hy’t gejaag asof hy 'n ou hand van die baan is. So gemaklik, so vol selfvertroue, nogal met ‘n vinnige tyd van 01:52.415. GELUK!

Plekke twee tot ses, is opgevat deur: Graeme Van Breda #1, Kyle Robinson #18, Jaco Gous #43, Sanjiv Singh #12 en Teddy Brooke #93. Gous en Singh, is besig om die hoenders nou mooi wakker te maak. Hulle vaar al hoe beter met elke ren byeenkoms. Kom sien hulle in aksie, in 2017. Gerald Van Heerden #20, het op geëindig, in 'n baie teleurstellende tiende plek.

Soos meeste van julle weet, het die Kyalami Motorsport Festival, al Vrydag afgeskop. Die program is vol. Te vol na my mening. Is dit regtig wat ons wil hê, drie dae van motorsport?

Ren twee: Tussen die eerste- en tweede ren, was daar hierdie lang baan stilte. In die agtergrond, hoor jy so nou en dan Naas Botha se naam. Die Meesters bereik kookpunt. Hulle wil jaag, hulle wil nie meer wag nie. Die ren-program is ver agter. Waarom gebeur daar niks nie? Hou Naas miskien die dinge op? Is hy nie veronderstel om diep-gebraaide hoeder porsies te bemark vir DFC nie? Hierdie gekry op die Internet / Twitter: "Most peculiar endorsement combo - have you seen the N1 billboard featuring Naas Botha clutching two buckets of Dros Fried Chicken (DFC)?" —https://goo.gl/25j1Gs ...

Die son hang laag in die weste. Die Meesters is huiwerig om te jaag. Met die son reg van voor, gaan hulle dalk sukkel. Skaduwees wat kom en gaan, soos iets wat flikker, en die honderde termiete wat opstyg oor die renbaan, sal ek ook daaraan dink om miskien huiswaarts te keur. Maar hier werk dit nie so nie. Taaier as taai kry jy nie op 'n ander plek nie. Vol Red Square Reload, durf die lot uiteindelik die laat middag ren aan ...

Gerald is eerste oor die wenstreep. Van tien na een, dit wil gedoen word. Veral dié tyd van die middag. Onder die omstandighede, het hy nog steeds 'n baie beter tyd as Grüne geregistreer: 01:52.168. Wys jou net: Red Square en Kawasaki, 'n uitstekende kombinasie.
Stuif op sy hake, Graeme Van Breda. Ek dink nie Van Breda het al ooit so sleg gevaar soos hierdie jaar nie. Hy erken dit self. Volgende jaar kyk ons met nuwe oë na alles. Hy’t vyfde geëindig in sy oefen en kwalifisering sessies. Die podium, vertel natuurlik 'n ander trotse storie. Van Breda bly nog steeds een van die bestes op die renbaan.
In derde plek: Sven. Toe Kyle, Jaco, en tot my verbasing, Pieter De Vos #17. En, Singh, is van vyf, na sewe.

Sven, Graeme, en Kyle, staan voor die Bridgestone banier met hulle koue vonkelwyn. Hulle wil nie stilstaan vir hulle foto nie. Uiteindelik staan hulle maar. Kyle was derde vir die dag, tweede, Graeme. En toe klap die proppe ...

Die klub het fantastiese ryers. Vandag het toeskouers 27 van beste op die wegspringrooster gesien. Die grootste groep nog ooit tot dusver. Vandag het hulle Kyalami, met groot spoed en mag aangedurf.
Die son het gesak, die koue Red Squares het gevloei. En toe ... is alles verby. Wens jy was hier.

—In ander nuus: Te danke aan Toby Venter (#9) / Porsce Suid Afrika, het Kyalami weer 'n prominente status, na soveel jaar. Dit klink amper te goed om waar te wees. Die plek lyk absoluut fantasties. Wie sou dit beter kon doen as hy?

Van Vrydag af draai die toeskouers opgewonde rond. Hulle is uitgehonger vir superkarre en motorfietse. En dit is presies wat hulle gekry het: G & H Transport Extreme Supercars, en die Red Square Kawasaki ZX10R Masters Cup. Daar was ander klasse ook. Hierdie twee, is natuurlik my gunstelinge. Kyalami se kuipe is vol. Lyk of die plek gaan bars. Van begin tot einde is dit gepak met dúúr renmotors ...

Stradale Motorsport word sterk verteenwoordig: Charl Arangies, Sam Hammond, Werner Link, Jonathan Shenkman, André Van Der Merwe, Nicky Dicks, en natuurlik, Willem Van Der Westhuizen, met sy Scuderia Ferrari. Toby vat notisie van hulle. Ek glo, hy en Arangies #13, is al lankal lus vir mekaar, veral dié naweek. Saterdag en Sondag moet nou vinnig kom. Charl jaag ‘n Lamborghini Gallardo GT3, en die Grand Wizard, Toby Venter, ‘n Porsche 911 GT2R. Sy #9 skop 484kW uit. Kyalami is natuurlik die beste plek, vir dié groot boks geveg.

Daar is meer as veertig inskrywings op die wegspringrooster. Die toeskouers wag ongeduldig vir die groot kanonne om hulle verskyning te maak. My oog beweeg vinnig oor die inskrywing. Dis te veel name om te noem. Johan Engelbrecht #99, is ook in die groot huis. Hy en Toby moes eintlik stalmaats gewees het. Hulle jaag "amper" dieselfde Porsche’s: 911 GT2R. Natuurlik sal ons nie regtig weet hoeveel ekstra R’e onder Toby se enjinkap sit nie, of hoeveel hy dalk ekstra spandeer het nie.
Nommer 9, staan koud en alleen in sy eie kuipe. Daar’s nie vandag tyd om nuwe maatjies te maak nie. Met sy doel voor oë, kan die wit Porsche 911, aan niks anders dink as om te wen nie. Ek kan my nie voorstel dat Toby se Porsche ‘n "sy" kan wees nie. Met so fris supermotor, kan dit net 'n "hom" of monster wees. Lamborghini klink meer vroulik, met 'n taai klap, vir die wat nie respek het nie.

Die Grand Wizard wys alles gaan "OK" wees. Ons praat 'n paar woorde. En toe is hy daar uit.

(Kyalami is 'n vinnige breë baan. Dit strek 4.522 kilometer, met 16 unieke draaie. Die plek lyk absoluut fantasties. Net nou die dag nog het ons gewonder oor die toekoms van dié internasionale renbaan. As dit nie vir Toby was nie, sou hier vandag dalk niks gewees het nie. Suid Afrika is weer terug op die wêreld-motorsport-kaart. Kom ons gee hom 'n luide applous.)

Dit was net so toe is die eerste ren verby. Die karre is vinnig. Toby het die eerste geruite-vlag gevat met ‘n indrukwekkende tyd van 01:46.610. JB Schoeman #23, van die Red Square Kawasaki Masters, spot nogal dat hy vandag mik, vir ‘n ‘42. Duidelik, het hy nie die Grand Wizard se tyd gesien nie. Hierdie is die vinnigste tyd wat oor die verloop van die motorsport naweek geregistreer was.
Tweede was die GT3 Stradale Lamborghini Gallardo, van Charl Arangies #13, ook met ‘n goeie baie tyd van 01:47.312. Derde: Johan Engelbrecht. Vier tot ses: Craig Javis, Jonathan Du Toit, Dawie Olivier.

Ren twee: Almal kom verby vir hulle warm-maak rondte, behalwe Toby. Paniek tref my. Charl kan definitief nie teen homself boks nie. Harry (Arangies), het gister te hard gewerk aan daai Lamborghini. Arangies verdien ‘n regverdige kans. Daar is 'n lang stilte. En toe, die diep-donder van die 911. Pá-pá-pá-pá, gaan hy deur draai 14. Wou hy ‘n "grand entrance" maak, of was daar dalk iets fout?

Iets het die ren opgehou. Foutiewe rooi ligte? Intussen, het ek van draai verander. Op na "Barbeque" toe, net skuins oorkant die Red Square Kawasaki kuipe. Dan ek is sommer reg, as hulle tweede ren aanbreek. Eerste uit die draai is dit Toby, dan Charl. Almal se oë is op die twee. Vroeër in die kuipe, kon ywerige toeskouer nie genoeg kry van die twee se superkarre nie. Toby was nie lank voor nie. Die Gallardo was te sterk, te vinnig. Die Arangies, weet net hoe.

Charl het die tweede ren met gemak gewen. Toby tweede. Johan en Craig was staties in drie en vier. Sam Hammond #10 het gevolg in vyf, met Willem in ses. Meer Beyerskloof (rooiwyn), kan dalk daai Scud’, meer spoed gee.

Dit was ‘n lekker naweek. Dis was ‘n lang, harde, en warm naweek.

Ek gryp soveel Red Square Reload, uit die koelboks, as wat my een hand kan raakvat. Hulle is vir die pad huistoe. So lekker, as dit yskoud is.
Die hoofweg Pretoria toe is stil. Ek dink aan al die wonderlike oomblikke. Vat so nou en dan ‘n sluk van die koue goue vloeistof. My hoogte punte vir die naweek was definitief die Red Square Kawasaki ZX10R Masters Cup, en die G & H Transport Extreme Supercars. Wens jy was hier.

Die jaar is verby vir die kragtige super-motors. Nie vir die Meesters nie. Kom sien ons by die volgende groot een, 26 November, Zwartkops. —Reënmaker!

Gerald Van Heerden, ZX10 Cup, Red Square Kawasaki Masters Cup

Gerald Van Heerden #20

—Gerald is eerste oor die wenstreep. Van tien na een, dit wil gedoen word. Veral dié tyd van die middag. Onder die omstandighede, het hy nog steeds 'n baie beter tyd as Grüne geregistreer: 01:52.168. Wys jou net: Red Square en Kawasaki, 'n uitstekende kombinasie.

Kyle Robinson, ZX10 Cup, Red Square Kawasaki Masters Cup

Kyle Robinson #18

—3 + 4, vir die dag.

Rodney Mclachlan, ZX10 Cup, Red Square Kawasaki Masters Cup

Rodney Mclachlan #42

—15 + DNF.

Stewie Christie, ZX10 Cup, Red Square Kawasaki Masters Cup

Stewie Christie #65

—Net reg vir die vininge Kyalami pylvak.

Johan Le Roux, Kawasaki Masters Cup, ZX10 Cup

Johan "JLR" Le Roux

—Ou haan onder die henne. Hoop nie hy slaap na vandag in die hondehok nie.

Sanjiv Singh, Kawasaki Masters Cup, ZX10 Cup

Sanjiv Singh + Keagan Govender

—Vat een vir die span!

Henk Schuiling, Kawasaki Masters Cup, ZX10 Cup

Henk Schuiling

—Só gelukkig!

Extreme Festival, Kyalami Motorsport Festival, Kyalami Raceway, Red Square Kawasaki ZX10R Masters, South African Motorsport, 2016/10/23.