
Pieter De Vos #17
—Hy is tans vierde op die punteleer.
—Killarney Raceway.

Rodney McLachlan #42
—Hy het baie moeite gedoen om sy "vinnige" 998cc ZX10R motorfiets so kleurvol af te rond.

Red Square Kawasaki Masters
—Die klub groei mooi.
Red Square Kawasaki ZX10R Masters: gister was lekker!
HOOFSTUK AGT: Waarom doen ons wat ons doen? Dis een van daai vrae wat nie onmiddellik 'n antwoord gaan kry nie. Almal het hulle eie redes. Veral as dit kom by super-motorfietsrenne. Bring dit vreugde? Verleng dit jou lewe? Middeljarekrisis? Wie weet.
Hoe lekker moet die nie wees om eendag na ou foto's te kyk, en dan te uiter: 'Dit is ek! Ek was daar.' Miskien, wil ons net die meeste, van dié lewe maak. As jy jonk is, dink jy mos nie aan die goed nie. Dan't jy baie tyd op jou hande. Die dae is lank en die "girls" is pragtig, en die Carlsberg yskoud. Gister was lekker!
Graeme. Graeme Van Breda, ons nommer #1, nasionale kampioen, het soort van my radar af verdwyn. Deur die loop van die motorfiets seisoen, het hy twee lelike ongelukke gehad. Waarvan hy goed herstel het. Kyk, as jy my vra, is hy taaier as 'n ratel. 'n Honderd moontlike punte net so deur sy vingers. Soos baie weet: die eerste ongeluk het plaasgevind in die Vrystaat, Phakisa renbaan, van alle plekke; die tweede by Red Star. Met sy laaste ren by Zwartkops, kon hy ook nie juis die hond haar af maak nie.
Soos wat die seisoen gevorder het, het my fokuspunt onbewustelik aangeskuif in die rigtings van Sven Grüne en Kyle Robinson. Tans is hulle die top ryers op die punteleer. En ... hulle oorlog het nou éérs begin. Wie gaan hierdie jaar gekroon word as die nasionale kampioen? Wag en sien ...
—Aan my geagte Lesers: Maak seker julle kom renbaan toe vir die laaste twee rondtes van dié opwindende renreeks. Die volgende ren vind plaas by die nuut oorgedoende Kyalami Internasionale Renbaan, 22 Oktober; en dan, meer as 'n maand later, 26 November, vir die finaal, by roemryke Zwartkops. Julle moet kom, dit gaan groot wees. Dan gaan julle ook definitief weet, wie die #1 plaat in 2017 gaan dra.
Na dit, kom die doodse stilte, vir 'n hele twee maande. Genade! Wat gaan ons maak met al die vrye tyd? Ek wens nie tyd om nie, maar sien nogal uit na Februarie, as die Kawasaki seisoen weer afskop, vir die elfde keer.
En in ander nuus: Die—Red Square Kawasaki Masters—klub, het drie nuwe ryers aangeteken vir die 2017 super-motorfiets-seisoen. Die klub groei mooi. Hulle is die grootste en beste klub in die land om voor te ry. Met 35 aktiewe lede op die boeke, en Red Square, as hulle hoofborg, wie gaan my verkeerd bewys.
As jy nie 'n bang haar op jou kop het nie, en lief is vir spoed, en kompetisie, en wil ten minste 10 jaar by jou lewe voeg, is hierdie net die plek vir jou. Jy sal so tuis voel. Jy sal nóóit, uit die Rooiweermag wil bedank nie. As jy nog oortuiging nodig het: Die Meesters braai gewoonlik meeste Vrydae aande, net voor 'n ren byeenkoms. Dan sosialiseer hulle tot die maan hoog sit. Mark Weitz sorg dat die koelbokse swaar gepak bly, met lekker yskoue drankies: Carlsberg, Red Square Reload. Red Square, die met skop. Daar is al sewe kleure al op die mark. Ek kry gewoonlik myne by Tops! Hulle dra die hele reeks sover ek weet. En, natuurlik braai Hannes De Vos die vleis tot perfeksie, as hy nie bande omruil nie. Hoe lekker klink dit nie? So, stuur ons 'n epos.
Nou ja. Tyd wag vir niemand nie. Kom ons gaan aan. Die "Red Square Kawasaki ZX10R Masters", soos hulle amptelik bekend staan, was Kaapstad toe verlede naweek, vir die Killarney rondte. Ek was self nie daar nie. Het wel 'n afgevaardigde in my plek gestuur, soort van. Dit is moeilik om artikels te skryf as jy nie self daar is nie. Jou sintuie speel só belangrike rol in die vormingsproses van jou sinne: klanke, reuke, dit wat jy sien, aan vat, proe. Dit maak 'n groot verskil. Dan is daar nog die aksie foto's. Sonder dit, vlieg ek blind.
My wysvinger, beweeg stadig van bo na onder, oor die lys van inskrywings. Ek wonder wie kan ek vra, of afvaardig, om my die enorme guns te doen. My vinger stop op Henk Schuiling (#69) se naam. Julle ken 'n "Wee-jee" bord? Dit was amper so iets. Iets of iemand het my vinger net daar laat stop. Met my trots in my sak, vra ek hom toe. En glo dit of nie: sy Kawasaki ZX10R, het die gees gegee. Met al die vrye tyd op hande, het Henk met passie, my oë en ore geword. Met sy nuwe Huawei Leica kamera, het hy 'n beeld geskep, van 'n uitstekende naweek. En hiervoor sal ek hom, ewig dankbaar wees. Suig of blaas, Henk bly bobaas. (Dis blykbaar wat sy besigheid doen. Die suig en blaas ding.) Nou lag ek lekker, hoop hy ook. Gister was lekker!
Die Internet is vrek stadig vanoggend. Ek is opsoek na die uitslae van die naweek. Uiteindelik kry ek dit opgespoor. Ek moet sê, ek was baie verbaas ...
Daar is net twee blou Red Squares in my yskas oor. Dit gaan lekker af so saam met die tik van die artikel. Hoekom het ek nie meer gekoop nie? Almal maak daai dom fout, glo my. Koop genoeg. Ses gaan te min wees! Ek blaai stadig deur Henk se foto's. Moet erken, hy't nogal 'n goeie oog. Baie moeite gedoen. Vyf-honderd-agt-en-negentig foto's.
Twee klein seuntjies poseer op Rodney Mclachlan (#42) se Kawasaki ZX10R. 'n Ander op Kyle se rooi-en-wit Fantech Kawasaki. Hy (Rodney) het baie moeite gedoen om sy "vinnige" 998cc ZX10R motorfiets so kleurvol af te rond. Die kinders hou daarvan. Miskien eendag, wil hulle ook soos ons wees—vinnig en braaf. Vir 'n oomblik dink ek daaraan: ons was ook eens op 'n tyd so klein en onskuldig. Nou's ons grys en geslete. Vader ... waar gaan die tyd heen?
... Johan Le Roux slaap. Russ Page slaap. Hulle kampeerstoele agteroor geslaan. Moeg. Die geraas van die baan pla hulle nie. Daar's 'n bos pers blomme teen 'n paal staan gemaak. Irisse nogal. Wonder vir wie was dit. 'n Kat op 'n paal, en ek praat nie van daai wat jy in die rooilig-distrik kry nie. Voëls wat die horison oorsteek. Die blou lug. Tafelberg in die agtergrond. 'n Wegspringrooster gepak met kragtige Kawasaki's ... (Maar gaan kyk self. Die foto albums is onder aan die voet van die artikel. Hulle vertel hulle eie storie.)
En toe breek die groot oomblik aan. Die eerste rooi ligte val. En die dreuning van 17 kragtige super-motorfietse, breek die stilte ...
Vrydag oefen sessies, gee nogal 'n akkurate weergawe van hoe die Meesters ingestel is. Hierdie is belangrike tyd op die baan. So jy maak die meeste daarvan. Nou is jou kans om die renbaan behoorlik te leer ken. Onthou, hulle is net eenkeer 'n jaar in die Kaap.
Kwalifisering, is natuurlik waar man en muis van mekaar geskei word. Dan ry jy hard, want jy wil verkieslik voor op die wegspringrooster wees. Graeme Van Breda, Sven Grüne #66, Kyle Robinson #18, Gerald Van Heerden #20, Sanjiv Singh #12 en Pieter De Vos #17, het die eerste ses plekke op die wegspringrooster beset.
Pieter kon regtigwaar baie beter gedoen het. Hy is al die heel jaar so ietwat traag, asof sy aandag op 'n ander plek is. Hy was op 'n stadium een van dié beste daar buite. Killarney is een van sy gunsteling renbane. Verlede seisoen, het Piet die baan aangedurf met mening, met passie. Toe het jy hoendervleis gekry, vir die spoed waarteen hy in die pylvak afkom. My woorde mag dalk hard klink, maar Pieter het dié seisoen, nie hard genoeg probeer nie. Hy is tans vierde op die punteleer.
Sal hom graag een of twee plekke hoër wil sien. Het ek moed verloor met hom? Nee. Ek het nie. Daar is nog twee datums oor op die motorsport-kalender. Die vet vrou moet nog sing. —Wel, in Koos Kombuis se geval, soek hy na een.)
Ek staan verbaas toe ek die uitslae druk van die Internet af. Graeme is terug op my radar. Hy het goed gery. Hy het alles gegee. Beide renne gewen. 'n Soliede 50 punte in sy sak. Dis al wat hy—nou—nodig het.
Gerald Van Heerden is spoedig na Van Breda oor die wenstreep. Op sy hakke, Kyle Robinson. Sven het nie die podium gehaal nie. 'n Hartseer vierde plek was sy voorland. Pieter het vyfde geëindig. Johan Le Roux (#44), sesde. Le Roux is gewoonlik onder die top drie, vier. Laat nagte en koue storte, was dalk die groot oorsaak, vir sy vinnige val na ses. Tans lê hy derde op die punteleer. Gister was lekker!
Tweede ren: Kyle skuif op van 'n derde- na 'n tweede plek. Gerald, in 'n teleurstellende negende plek. Sanjiv, op van 10 na drie. Pieter, snoesig in vier. Te snoesig. Jaco Gous (#43), vyfde. Le Roux, staties in sesde. Sven—TIENDE! Later is hy met 30 sekondes gestraf. (Hulle sê: 'n koue rou kruisskyf, werk wondere vir 'n blou oog. Maar wie is ek om raad te gee.) Blykbaar weggespring voor die rooi ligte afgegaan het. Dit gebeur maar van tyd tot tyd: kompetisie is staf aan die bo-punt van die punteleer.
Die geruite vlag het sy werk gedoen vir die dag. Geduldig wenners en verloorders aangekondig. Graeme het gekom om te doen, wat hy veronderstel was om te doen—WEN! Net soos ek hom ken. Sy twee oorwinnings, het hom ook "Ryer van Dag" gekroon. Dis nou wat hulle 'n "hat-trick" noem.
Die kurkproppe het gevlieg. Die goedkoop vonkelwyn het gespyt oor ywerige toeskouers. Wat 'n pragtige Bridgestone podium oomblik: Graeme, Kyle, en Piet—GELUK!
Ons ry hard! Ons speel hard!
Dankie aan Henk Schuiling, vir al sy moeite en foto's. Dankie aan Paul Bedford vir sy waardevolle foto bydra. Dankie aan Mark en Tracey (van Red Square/Halewood), vir al die yskoue drinkgoed—gister was lekker! —Reënmaker! •

Gerald Van Heerden #20
—... spoedig na Van Breda oor die wenstreep.

Die Toekoms
—Amper daar!

Die Toekoms
—Kyk Ma!

Die Toekoms
—Die gesig van spoed.

Gister was lekker!
—Natuurlik! Dankie aan my vriend, Hendrik "Prinsie" Prinsloo, dat ek sy onthaalarea kon bekrap. "Ons was hier."
Extreme Festival, Killarney Renbaan, Red Square Kawasaki ZX10R Masters, South African Motorsport, 2016/09/24.